Sunday, May 24, 2020

Babilon die groot ontnugtering



Here ek kan nie anders as om U te loof en prys nie. Dankie Heer dat U die spirituele waarhede aan ons openbaar. Here openbaar aan elke persoon wat die stuk lees U boodskap. Here laat U Heilige Gees hulle lei en beskerm. Here openbaar U waarhede aan hulle soos wat hulle U Woord raadpleeg en sluit U woord vir hulle oop. Dankie Here dat Jesus alles vir ons moontlik maak. Amen
Die eerste melding van Babilon is in Genesis 7 – 9. Na die vloed het die kinders van Noag hulself in die land Sinear gevestig. In Genisis 11 lees ons dat die afstameling van Noag onder leiding van Nimrod die toring van Babel oprig. Genisis 10: 8 -10 beskryf Nimrod as n’geweldenaar, n’geweldige jagter voor God, n’jagter van mense en hulle siele.  Nimrod het die ryk Babel wat verwarring beteken gestig.

Daniël 4: 30 – 37 Nebukadneser die Koning van Babel het homself verhef en homself die roem gegee vir sy koningkryk wat “hy”gebou het. Dus het hy n’toring teen God opgerig. Nebukadneser is in n’toestand van verwarring gebring en is verstoot deur sy volksgenote. Hy is eers herstel nadat hy eer aan God gegee het vir wie hy is en wat hy besit.

Om geestelik n’toring op te rig beteken dat mens jouself teen God verhef en n’troon bou met die doel om God te onttroon. Mens word God - dieselfde sonde as Adam. Trotsheid was die sonde wat tot Satan se val gelei het.  As ons torings teen God oprig dan sal daar verwardheid oor ons gebring word, ons spraak of taal sal geaffekteer word en ons sal onverstaanbaar wees vir ander. Dit lei tot onderlinge gevegte en is die grootse rede hoekom die liggaam van Christus so verdeeld is. Ons kan nie onself en God tegelyketyd aanbid nie. Nimrod het Adam se sonde een stappie verder gevat ; hy was nie net trots en verwaand nie maar was verantwoordelik vir die eerste afgode aanbidding na die sondvloed. Nimrod het nie alleen afgode aanbid nie maar sy volksgenote op n’dwaalspoor gelei.

Abraham gebore in Babilon was deur God versoek om Babilon te verlaat en om God te dien. Abraham het grootgeword in n’stad waar hemel-liggame aanbid is en word uit Babilon geroep, hy moes geestelik uit ballingskap gebring word. Net so roep God nou nog sy volk uit Babilon uit. Abraham word eers na Egipte gelei en moet  die wêreld se versoekinge / vleeslike oorwin voor hy in sy Woestyn tyderk ingaan. Dus net soos die Israeliete en Jesus Christus, word ons spiritueel gelei vannaf Egipte na die Woestyn en is ons einbestemming die beloofde  land Kanaan. Genesis 12 en 13 Na Abraham se tog uit Egipte agv die verdeeltheid tussen Lot en Abraham gee Abraham Lot die keuse om weg te trek. Lot sy susterskind vasgevang in “Egipte”het vir homself die beste uitverkies en Abraham het die dor streke gekry, die woestyn.  Dus het Abraham die regte keuse gemaak, hy het deur sy woestyn tydperk gegaan en die Here leer ken. Lot aan die ander kant is n’weerspiëeling   van wat met mense gebeur wat in Egipte leef en dan n’ balling van Babilon word. (Sodom en sy sondes was niks anders as n’geestelike Babilon nie). Egipte was die beginpunt en so is Lot metertyd verstrengel in Sodom se vangmette en het die bose magte van Sodom reg en beheer oor sy en sy kinders se lewe gehad.

Babilon vergestalt die aanbidding van afgode. Ons gaan bewustelik of onbewustelik ooreenkomste aan met bose geeste, magte en kragte van die duisternis en gee hulle toegang tot ons lewens. Wanneer mens uit Egipte uitgelei word en vrygespreek word van slawerny is daar n’tydperk waarin God sy wette, verordinge en insettinge openbaar nl die woestyntydperk.  Die Israeliete was gewaarsku om nie “erger” gode of vreemde gode te aanbid wat die Kanaaniete aanbid het nie. Dieselde waarkuwing geld vir elkeen van ons.  Ons kom in Kanaan en God verwag dat ons die stede / torings wat in ons binneste gebou is deur ons ongehoorsaamheid sal afbreek . Ons moet kom teen die bose magte wat reg tot ons lewens verkry het en hulle d.m.v Jesus se verlossing uit ons lewe verdryf. Let daarop dat dit slegs die verbod tussen Israel en God was wat vir Israel oorwinning gegee het. Die feit dat die ark vooruit geloop het, het die mure van Jerigo laat val. Geestelik gestel beteken dit dat ons nie sonder n’verbod met God enige oorwinning sal behaal nie. Sonder die verbod (ark) en aanvaarding van God se gebooie  kan God nie namens ons optree nie. Sonder Jesus is daar nie n’verbod nie want Jesus het die nuwe Testament daargestel . (Jesus se dood gee ons vergifnis vir ons sonde en deel in oorwinning). Jesus se Naam is so kragtig omdat Hy die enigste mens is wat die bose, vleeslike versoekinge en sondige natuur kon oorwin. Slegs Jesus kon al Moses se wette onderhou en sterf sonder om te sondig. Jesus vervul dus die wette maar het dit nie verwyder nie. Om God volkome te aanvaar moet jy die wette ook aanvaar, want die ark met gebooie moet vooruit loop as jy die mure van Jerigo in jou lewe afbreek.

Ons lees in Openbaring 17 dat Babilon met n’prostituut vergelyk word wat op baie waters sit. Wanneer  die Bybel na prostitusie verwys, verwys die Bybel na afgode aanbidding. God stel ons verhouding met hom gelyk aan n’huwelik en wanneer ons agter ander gode aanloop dan is ons ontrou aan God, net soos n’ontroue huweliksmaat. Dit is die enigste manier waarop God vir ons kan oordra hoe Hy voel as ons Hom nie belangrik ag in ons lewens nie. Staan bietjie hier stil en laat dit insink; ons is verpletter as ons huweliksmaat ontrou is. Ons sal en wil nie n’ontroue huweliksmaat  hê of terugneem nie; maar God het ons so baie lief dat Hy selfs al was ons ontrou volkome vergewe en ons terugneem. Die boek Hosea beskryf dit so mooi en gee ons insig in hoe dit God raak.

Daar kom n’punt waar iemand so baie ander gode dien dat die persoon as n’prostituut gesien word. Ons lees ook dat Babilon op baie waters; baie nasies sit m.a.w Babilon beïnvloed nie net een volk of een nasie nie maar die hele wêreld. Daar word ook genoem dat Babilon dronk was en ander dronk gemaak het met haar wyn. Sodra Babilon ons lewe regeer word ons dronk en kan ons nie nugter na situasies kyk nie. Babilon is ook n’bloeddorstige stad, wat oorlog teen Christus voer en Christus se volgelinge dood. Babilon is die wêreld soos die wêreld vandag is. Ons word so maklik op n’dwaalspoor gelei, so maklik verblind en so maklik soos n’dronk persoon. Weereens jy hoef nie fisies n’beeld te aanbid om afgode te aanbid nie; alles wat belangriker as God is, is n’afgod. Dit is egter belangrik om te besef dat “afgode” bose geeste toegang tot ons lewens gee en mag oor ons gee. Ons word spiritueel n’gevangene van die bose; van Babilon.

Die bose magte wat reg tot ons lewe verkry het agv ons ongehoorsaamheid word ons reuse wat ons moet veg, net soos Dawid. Partykeer is dit nie so seer ons ongehoorsaamheid nie maar die van ons familie wat generasie vloeke oor ons lewe gebring het. Wanneer ons vertrou in God is, sal ons soos Dawid net een klippie nodig hê want ons krag lê in Jesus Christus wat ons die oorwinning gee.
Ons moet nie soos die Israeliete na-laat om die suurdeeg (sonde) in ons lewens te soek  en die bose uit te dryf nie. Omdat hulle nie die bose verdryf het nie het die bose vir hulle n’strik geword en daarom het hulle erger gode aanbid en meer losbandig geword as wat hulle was in Egipte.  In Eségiël word dit duidelik gemaak dat God se volk erger was as Egipte, Babilon en Sodom. Hulle het hulle vryheid prysgegee en hulle siele verbind tot die bediening van Satan.  

Dit is belangrik om te merk dat die koningkryk a.g.v Salomo se afgodsdiens in twee geskeur is, Israel en Juda. Israel het ballinge van die Assiriers geword en Juda is weggevoer na Babilon. Hulle vryheid is weggeneem en hulle was soos voëls wat vasgevang is in n’ voëlhokkie. Wanneer ons afgode dien en sonde ons norm word, word ons siele gevange geneem en vasgevang in hokke.
Die laaste koning van Israel was Hosea, hy het hulp gaan soek by Egipte. Dus spiritueel is hy terug na Egipte waaruit die Here hom met n’sterk hand verlos het. Sy straf was gevangenisskap, hy was geestelik vasgebind.  (2 Konings 17 en 24). Net soos Hosea het die laaste koning van Juda, Sedekia,  na Egipte gevlug vir hulp en wou hy homself weer onderwerp aan die slawerny waaruit hy losgekoop is. Die profeet Jeremia het Sedekia gewaarsku maar hy wou nie luister nie. Jeremia 52: 9-11. Die koning van Babel het Sedekia gevange geneem, sy seuns gedood, sy oë verblind en hy was in die gevangenis tot die dag van sy dood. Eségiël 12:13 En Ek sal my net oor hom uitsprei en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel, na die land van die Chaldieërs  bring, maar hy sal dit nie sien nie en daar sal hy sterf.

Wanneer ons ballinge van bose magte en kragte word en demone toegang tot ons het en ons terugkeer na Egipte waaruit ons verlos was sal ons dieselfde oordeel as Sedekia ontvang. Ons oë sal geestelik verblind wees vir God se waarheid.  Ons kinders sal gedood word want ons het hulle aan die duisternis gegee d.m.v. erfsondes en familie vloeke. Ons sal siel sal in die gevangenis   wees tot ons dood toe. Jesus se bloed kan slegs vir ons spreek as ons kies om Hom te dien en die sonde uit ons lewe verwyder.

Eségiël 13 waarsku ons teen valse profete. Babilon werk nouliks saam met vals profete. Daarom gee die Bybel ons die opdrag om die geeste te toets en is een van die geestelike gawes die onderskeiding van geeste.  Ons kan nie net blindelings alles glo wat gepreek of geprofeteer word nie maar ons moet dit toets aan God se woord, ons moet dus nugter bly. Eségiël 13: 18 -20 Valse profete het ook die mag om ons siele gevange te neem en te dood. Hulle gebruik nie God se krag nie maar demoniese magte en kan agv jou toestemming, jou siel gevange neem, dood maak of aan die lewe hou tot hulle voordeel. Die Here sal hulle sluiers skeur waarmee hulle hulle bose werke bedek en hulle ware doel openbaar. Dit bly ons verantwoordelikheid om te bid en elke gees te toets want ons sal die valse profete ken aan die vrugte wat hulle dra. Matthéüs 7: 15-20

Eségiël 18 gee ons, ons persoonlike verantwoordelikhede en dit wat God van ons verwag. Dit is net so relevant tot ons vandag soos toe dit geskryf was en som die wette in Exsodus, Levitikus en Detrenomium op. Moenie dat ek jou oortuig nie, lees gerus vir jouself wat  God van ons verwag. Daar is net een waarheid en dit is God se Woord en net God se Woord is lewendig en kan vryspreek.
Eségiël 18, 23, 29

Here ek dank U vir U woord en U waarheid. Here maak my nugter en ontmasker die Babilon in my lewe. Here wys Babilon se strikke uit en lei my op U paaie van geregtigheid; verlos my uit Babilon se kloue. Here ek kies om U te dien en ek vra dat U my die weg sal wys. Sonder U is ek tot niks instaat nie ek kan slegs oorwinning behaal deur Jesus Christus wat my die krag gee. Ek loof en prys U wonderlikke naam en dank U Here dat U die waarheid in U woord aan my openbaar. Dankie dat Jesus my verlossing mootlik gemaak het en elke band wat Babilon in my lewe het sal verbreek. Ek bid alles met dank en eerbieding in die groot en heilige naam van Jesus  Christus. Amen

Sunday, May 10, 2020

In die Woestyn


Soos in die vorige post “spirituele Egipte” herinner ek net dat die boodskap die spirituele betekenis verduidelik. Net soos n’ mens uit n’ spirituele Egipte uit gelei word, word mens ook in n’ spirituele woestyn ingelei.

Here ek dank U vir elke openbaring en vra dat U ook die boodskap in sy suiwer toestand sal oordra. Here mag U Naam verheerlik word en U lig oor elkeen wat U boodskap ter harte neem skyn. In die naam van Jesus Christus ons verlosser.

Jy het Egipte en sy gode agter gelaat, jy wil God dien maar nou is jy in die woestyn. Dis nie n’ lekker plek om te wees nie. Ons lees heel eerste in Exsodus 15 dat die Israeliete drie dae lank rondgetrek het en nie water kon vind nie. Water is n’ lewensbron vir alle lewende wesens, water verteenwoordig reiniging; die Heilige gees word deur water voorgestel – die fontein van lewende waters, Johannes 7: 38-39. Wanneer n’ mens die wêreld verlaat dan voel jy leeg en alleen en is al soekend na God. By Mara vind mens God se reinigende lewende water maar die water a.g.v. ons sonde en sondige natuur is vir ons te bitter om te kan drink. Die wêreld se water waaraan ons gewoond was, is soet omdat dit gevul is met sonde. Dit is slegs wanneer Jesus se kruis in die water bron is dat ons die water kan drink. (Moses moes hout in die water gooi sodat dit drinkbaar kon wees) Sonder die kruisiging sou ons glad nie gereinig kon word deur God se lewende water nie. Na ons reiniging word ons n’ fontein van lewende water. Daar was 12 stamme teenwoordig en die skrif sê 12 waterfonteine, dus na die volk die water van Mara gedrink het het hulle self  n’ fontein van lewende water geword. Die skrif vertel ook van 70 palmbome. Die palmbome verteenwoordig oorwinning. Dit dui op die gees se oorwining oor die vleeslike en die vleeslike versoekings van die wêreld.  

Na reinigining word ons gevoed net soos Israel gevoed was met manna – geestlike brood. Deutreronomiun 8 : 2-3. Mens kan nie van brood (wêreldse brood ) alleen leef nie, maar van elke woord wat uit God se mond uit kom – want net God kan lewe spreek. Daarom voorsien die Here ons met lewende brood, met Sy Woord. Sy Woord spreek lewe in elke situasie. Dis die manna in elkeen se lewe, die manna wat ons voed; ons daaglikse brood.

In elke versoeking en met elke hindernis murmureer ons teen God. Ons word so vinning kwaad as dinge nie gaan soos ons dit wil hê of beplan nie en vergeet dat God n’groter plan het. Ons moet God se wil bo ons eie plaas. So het die volk ook gemurmereer. Die Here het hulle gereinig en vir hulle geestelik gevoed maar die fisiese wêreld met sy vleeslike versoekinge was die probleem. Isreal het skaars brood ontvang toe begin hulle murmureer dat hulle nie vleis het nie. So is dit in ons elkeen se lewe ons murmureer sodra ons nie het nie; ons is nooit tevrede met wat ons het nie. Ons vergeet dat ons omstandighede en wêreld tydelik is en die geestelike die onverganklike is. Daarom sê Jesus vir ons dat ons eers die koningkryk van God moet soek en dat alle ander dinge dan vir ons bygevoeg sal word Mattheus 6. As ons geestelike lewe reg is dan sal ons nie meer agter vleeslike versoekings aanhardloop nie en dan eers kan God ons ryklik seën.

Kan God se humeur teen ons ontvlam? Inderdaad, daarom is dit gevaarlik om die heeltyd te loop en murmureer. Ons lees dat die volk deur hulle murmureeringe God versoek het. Hebreërs 3 : 7-17. Hulle sondige aard en vleeslike begeertes t het hulle harte teen God verhard.  Kan ons sterf in ons woestyn toestand? Beslis, veral as ons God versoek. Ons leer in Matheus 4 dat Satan ons vlees en vleeslikheid as n’ wapen teen ons gebruik. Dit is die rede hoekom Jesus versoek was om klippe in brood te verander. Satan het Jesus deur vleeslike begeertes (Jesus was reeds swak en honger) versoek.
Ons kan nie aan God behoort as ons nie bereid is om n’ pad saam met Hom te stap nie. Ons is mens en dit neem tyd vir ons om te leer. Die Here het Sy volk tot by die berg Sinai geneem om hulle Sy wette en verordinge te leer. Die volk moes Sy gebooie aanvaar en onderneem om dit te onderhou. Net so is ons woestyntydperk n’ tydperk waarin ons geleer word en waar ons voor besluite gebring word. Gaan ek God se wette aanvaar of gaan ek  n’ spirituele dood sterf? Dit maak my hartseer wanneer mense vir my vertel dat Moses en die wette ou Testament is en nie vir ons enige waardevolle betekenis het nie. Die wette is waarop God se koningkryk gevestig  word; selfs Jesus het gesê dat hy nie gekom het om die wette weg te neem nie maar om dit te vervul. Wanneer God mens se spirituele blindheid verwyder dan openbaar Hy terselfdetyd Sy wette. Deur Sy wette te verydel, verydel jy Hom asook Jesus en verloor die hele verlossing plan waarde en betekenis. Dit is juis Satan se missie om ons te kry om teen God se verordinge te leef. Hy wil hê ons moet die gees van wetteloosheid aanvaar sodat hy n’ houvas op ons lewens kan hê. Wanneer ons wetteloos lewe dan is ons belangriker as God en is ons trotsheid die muur tussen ons en God.

Die tabernakel is in die woestyn gebou. Net so word die tabernakel binne ons gebou wanneer ons in die woestyn is; ons het die tempel binne in ons en daarom woon God d.m.v die Heilige Gees in ons hart. Die tabernakel het al in die woestyn Jesus se verlossingsplan verkondig; Jesus word dus die bemiddelaar wat ons toelaat om vlekkeloos voor God te verskyn. Die sonde offer wat die Israeliete na die tempel gebring het, het die vlekke van sonde verwyder sodat God in hulle midde kon bly. God is heilig daarom moes Sy volk heilig wees. As ons wil hê dat God in ons moet woon damn moet ons ook heilig wees, want God is heilig. Die aardse tabernakel was n’replika van die  Hemelse tabernakel waarin Jesus as ons hoëpriester diens doen. Ek het ook nooit verstaan dat God slegs ons sonde kan vergewe as ons dit na hom toe bring vir vergifnis. Die hoëpriester kon nie n’sondeoffer namens n’persoon bring as die persoon en sy offergawe nie na hom gekom het nie.  Jesus se dood het nie outomaties ons sondes vergewe en nou hoef ons niks te doen nie. Dis loutere onsin; ons moet sonde verwyder uit ons lewens, harte en gedagtes en na Jesus neem vir versoening en vergifnis. As jy niks doen nie, dan kan Jesus vir jou niks doen nie en daarom oorwin Satan soveel mense.

Daar is so baie geestelike beginsels wat in die woestyn geopenbaar word dat hierdie skryfstuk glad nie dit kan saamvat nie.  Ek bid dat God Sy geestelike waarhede aan elkeen openbaar wat Sy woord lees en self ondersoek doen.

Here dankie vir U liefde. Dankie dat U so groot behae in elkeen van ons se lewens het en dat ons so belangrik vir U is dat U n’ wonderbaarlike verlossingsplan daargestel het om ons te kan verlos. Dit is fenominaal dat U, U plan al in Genisis openbaar het. Here help my om reg te kies. Laat u gebooie my norm word en U Woord my daaglikse voedsel. Ek wil uit U fontein van lewende water my siel lawe en my reinig. Ek kniel voor U my Lewende, Waaragtige God en Heerser. Help my Here om my sondes na Jesus te bring sodat sy bloed vir my versoening kan doen. Ek vra alles in nederigheid en in Jesus se Naam alleen. Amen

Tuesday, May 5, 2020

Spirituele Egipte


Ons lees ons Bybels en sien die “stories”as blote kinder stories. As ons maar net kon besef hoe gepas elke “storie”tot ons huidige lewe is. Ek kan net God dank vir elke openbaring wat ek ontvang en kan oordra.

Ek bid dat elke persoon wat die boodskap lees dit sal kan verstaan en iets daaruit kan wegneem wat sy geestlelike lewe sal veryk. Ek bid dat geestelike blindheid genees sal word en dat die skrif homself aan elkeen sal openbaar. Ek bid ook dat geen bose mag of krag die boodskap kan verdraai of kaap vir hulle voordeel nie. My bede is dat die boodskap suiwer aan elkeen oorgedra word en dat God se Mag, Krag en Naam hierdeur verheerlik mag word. Ek vra alles in die ongelooflike naam van Jesus Christus ons Verlosser en Saligmaker.

God is sooo wonderbaarlik dat Hy slegs as ons Hom met ons hele hart soek sekere waarhede en spirituele boodskappe aan ons openbaar. Die volk Israel soos uitverkies deur God is n’weerspieeling en n’getuienis vir elkeen van ons se lewens. God het gewone mense gebruik om vir ons te wys watter implikasie sekere besluite wat ons neem op ons, ons gesinne en ons nageslag sal hê. Abraham het in die Here geglo en sy geloof is vir hom tot geregtigheid gereken. Deur Abraham wys God vir ons dat as ons in Hom glo Hy ons en ons nageslag sal seën.  Wanneer iets in die Bybel plaasvind of besluit word dan raak dit n’beginsel saak. Alle gebeure daarvandaan af sal dieselfde beginsel geld. Dus beginsel is: glo in God en Hy sal jou en jou nageslag seën. Hy wys ook dat ons lankmoedig en geduldig moet wees soos Abraham was terwyl hy moes wag op die beloofde seun Isak. God wys vir ons wat gebeur as ons ons eie besluite neem soos Sara haar eie besluit geneem het toe sy  Abraham versoek het om n’kind deur Hagar haar slavin te  verwek.

Die Bybel is dus meer as net n’storie boek. Dis n’boek met spirituele beginsels wat spreek tot elkeen van ons se lewens; of ons nou in God glo en of nie, die Woord is lewend en spreek. Dit is n’boek wat wette neerlê en regspraak lewer. Om die Bybel te verstaan moet jy die “stories” ken en daarom beteken dit dat jy dit sal moet lees! Om my verduideliking te verstaan moet jy ongelukkig die eerste vyf boeke van die Bybel lees, indien jy dit nie ken nie.

Ons word gebore in die wêreld sonder enige kennis van wat reg of verkeerd is. Ons kies nie ons ouers of huis waarin ons gebore word nie. Soos alle ander mense volg ons die wêreld wat ons ken en waarin ons grootword. Ons is so deel van die wêreld soos wat die wêreld van ons is. Net so het die Israeliete wat in Egipte gebore is in Egipte grootgeword. Hulle is onderrig in Egipte se gebruike, stelsels en Godsdiens. In Genisis 15 lees ons dat die volk Israel 400 jaar vreemdelinge in Egipte was en hulle verlossing in hulle vierde geslag gekom het. In 400 jaar verleer n’generasie maklik sy norme en waardes, veral as hulle vreemdelinge in n’land is. Dus teen die vierde geslag was Abraham n’”storie”wat van geslag tot geslag oorvertel is en die afgode van Egipte n’realiteit vir die volk Israel.

Die Bybel is vir meeste mense n’ “storie”en ons lewenswyse, sisteme, kulturele norme, ekonomie en godsdiens n’realiteit. Net soos die Israeliete is ons vasgevang in die wêreld wat geestelik deur Egipte voorgestel word. Ons is slawe van hierdie wêreld en volg die wêreld slaafs na. Ons kyk die flieks van die wêreld, luister na die musiek van die wêreld en aanbid die afgode van die wêreld. Ons is so deel van hierdie stelsel dat enigiets wat anders is vir ons vreemd is en teen ons wêreldse norme is.

Hoe kan jy sê ek aanbid afgode? Maklik die Here het dit vir my ook gesê en ek het dieselfde vraag gevra. Enige iets belangriker as God is n’afgod. Is jou kinders belangriker? - dan is hulle jou afgod, is sosiale media belangriker? - dan is dit jou afgod. Ek kan nie bepaal wat alles vir jou afgode is nie, net God kan dit vir jou uitwys.

Ons lewe word geskud deur die Corona Virus en ons afgode val een na die ander. Aanbid jy Bagus dan sal jy kwaad wees as jy nie drank in die hande kan kry nie. Indien jy so vêr sou gaan om te steel om dit in die hande te kry dan kan jy mos sien hoe groot Bagus in jou lewe is. Hou op drink en kyk hoeveel mense is nog vriende met jou……. Wat doen mens nie vir sigarette nie, betaal jy belaglike pryse en offer jy kos op daarvoor? Wil jy regtig vir my vertel dat jy nie n’slaaf van sigarette is nie? Ek verstaan beter as wat jy dink want ek self het gerook. As ek sê God is belangriker dan moet ek God eerste stel en rook laaste….. makliker gesê as gedaan, veral as jy rook. Ek praat nie eers van Mamon wat ons almal slaafs dien en waardeur ons almal ons siele prysgee nie. Mamon is die grootse afgod in hierdie wêreld. As jy nie geld het nie wil niemand jou ken nie, jy word n’bespotting en as melaats gesien. Mense sal mekaar indoen net om geld te hê; hulle motto is ek sorg eers vir myself. My liewe mens gaan al die geld in die wêreld Corona van jou af weghou? Gaan jou geld, jou sekuriteit wees?

Net soos God Egipte se afgode aangespreek het so skud hy ons wêreld om ons afgode aan te spreek. Hy het deur Moses en die plae elke afgod aangespreek en vir die Egiptenare gewys hoe nietig hulle afgode in der werklikheid is. Nee ons smeer nie lammers se bloed aan ons deurkoesyne nie maar Jesus se bloed aan ons harte. Min mense besef dat Covid uitgebreek het net voor Pasga, nee nie Paasfees nie…. PASGA!!! Exodus 12: 43 -51. Besef ons regtig dat die woorde “pass over” se  betekenis is - dat dit by my verbygaan, my huis nie tref nie? Besef ons dat Jesus tydens dieselfde fees jare later gekruisig is? Mattheus 26, Markus 14, Lukas 22. Ek dink min besef regtig dat Jesus se dood ons “pass over” - vryspraak was en daarom kan ons leef. Die prys van sonde is die dood. Ek is sondig en daarom moet ek sterf maar te danke aan Jesus kry ek die kans kry om te leef en sterf hy in my plek.

Ons het n’keuse: bly in Egipte en dien die gode van hierdie wêreld of kom uit Egipte uit en dien God. Gaan dit maklik wees? Nee stellig nie, dis n’ onsekere woestynpad, soms n’alleenpad (jou familie en vriende wil nie altyd saam met jou gaan nie – baie bly agter). Is dit die moeite werd? As jy in Kanaan aan wil kom en die Here se beloftes oor jou lewe wil hê…..ja dan is dit die enigste pad en meer as die moeite werd. Gaan  God saam jou stap? Ja beslis Hy stap vooruit maar jy moet Hom vertrou. Jy kan slegs die wonderwerke van God in jou lewe ervaar as jy bereid is om Egipte agter te laat.

Here ek bid vir die persoon wat hierdie boodskap raak gelees het en wat voor hierdie enorme besluit staan. Here neem hom /haar hand en lei hulle op die pad van U geregtigheid. Here laat U engele hulle omring en hulle rustig maak. Here hou alle aanslae van hulle af weg en help hulle tydens hulle reis. Here ek weet U voorsien in al ons behoeftes en kan daarvan getuig; voorsien so ook in hulle behoeftes en gee hulle die krag en genade om elke dag aan te pak.  Gee hulle u manna en water sodat hulle dors geles en hulle versadig kan word deur U woord. Here open hulle oë sodat hulle onder leiding van U Heilige Gees die spirituele waarhede in U woord  kan raaksien. Ons vra alles in die naam van Jesus Christus ons Verlosser en Koning. Amen