Sunday, May 24, 2020

Babilon die groot ontnugtering



Here ek kan nie anders as om U te loof en prys nie. Dankie Heer dat U die spirituele waarhede aan ons openbaar. Here openbaar aan elke persoon wat die stuk lees U boodskap. Here laat U Heilige Gees hulle lei en beskerm. Here openbaar U waarhede aan hulle soos wat hulle U Woord raadpleeg en sluit U woord vir hulle oop. Dankie Here dat Jesus alles vir ons moontlik maak. Amen
Die eerste melding van Babilon is in Genesis 7 – 9. Na die vloed het die kinders van Noag hulself in die land Sinear gevestig. In Genisis 11 lees ons dat die afstameling van Noag onder leiding van Nimrod die toring van Babel oprig. Genisis 10: 8 -10 beskryf Nimrod as n’geweldenaar, n’geweldige jagter voor God, n’jagter van mense en hulle siele.  Nimrod het die ryk Babel wat verwarring beteken gestig.

Daniël 4: 30 – 37 Nebukadneser die Koning van Babel het homself verhef en homself die roem gegee vir sy koningkryk wat “hy”gebou het. Dus het hy n’toring teen God opgerig. Nebukadneser is in n’toestand van verwarring gebring en is verstoot deur sy volksgenote. Hy is eers herstel nadat hy eer aan God gegee het vir wie hy is en wat hy besit.

Om geestelik n’toring op te rig beteken dat mens jouself teen God verhef en n’troon bou met die doel om God te onttroon. Mens word God - dieselfde sonde as Adam. Trotsheid was die sonde wat tot Satan se val gelei het.  As ons torings teen God oprig dan sal daar verwardheid oor ons gebring word, ons spraak of taal sal geaffekteer word en ons sal onverstaanbaar wees vir ander. Dit lei tot onderlinge gevegte en is die grootse rede hoekom die liggaam van Christus so verdeeld is. Ons kan nie onself en God tegelyketyd aanbid nie. Nimrod het Adam se sonde een stappie verder gevat ; hy was nie net trots en verwaand nie maar was verantwoordelik vir die eerste afgode aanbidding na die sondvloed. Nimrod het nie alleen afgode aanbid nie maar sy volksgenote op n’dwaalspoor gelei.

Abraham gebore in Babilon was deur God versoek om Babilon te verlaat en om God te dien. Abraham het grootgeword in n’stad waar hemel-liggame aanbid is en word uit Babilon geroep, hy moes geestelik uit ballingskap gebring word. Net so roep God nou nog sy volk uit Babilon uit. Abraham word eers na Egipte gelei en moet  die wêreld se versoekinge / vleeslike oorwin voor hy in sy Woestyn tyderk ingaan. Dus net soos die Israeliete en Jesus Christus, word ons spiritueel gelei vannaf Egipte na die Woestyn en is ons einbestemming die beloofde  land Kanaan. Genesis 12 en 13 Na Abraham se tog uit Egipte agv die verdeeltheid tussen Lot en Abraham gee Abraham Lot die keuse om weg te trek. Lot sy susterskind vasgevang in “Egipte”het vir homself die beste uitverkies en Abraham het die dor streke gekry, die woestyn.  Dus het Abraham die regte keuse gemaak, hy het deur sy woestyn tydperk gegaan en die Here leer ken. Lot aan die ander kant is n’weerspiëeling   van wat met mense gebeur wat in Egipte leef en dan n’ balling van Babilon word. (Sodom en sy sondes was niks anders as n’geestelike Babilon nie). Egipte was die beginpunt en so is Lot metertyd verstrengel in Sodom se vangmette en het die bose magte van Sodom reg en beheer oor sy en sy kinders se lewe gehad.

Babilon vergestalt die aanbidding van afgode. Ons gaan bewustelik of onbewustelik ooreenkomste aan met bose geeste, magte en kragte van die duisternis en gee hulle toegang tot ons lewens. Wanneer mens uit Egipte uitgelei word en vrygespreek word van slawerny is daar n’tydperk waarin God sy wette, verordinge en insettinge openbaar nl die woestyntydperk.  Die Israeliete was gewaarsku om nie “erger” gode of vreemde gode te aanbid wat die Kanaaniete aanbid het nie. Dieselde waarkuwing geld vir elkeen van ons.  Ons kom in Kanaan en God verwag dat ons die stede / torings wat in ons binneste gebou is deur ons ongehoorsaamheid sal afbreek . Ons moet kom teen die bose magte wat reg tot ons lewens verkry het en hulle d.m.v Jesus se verlossing uit ons lewe verdryf. Let daarop dat dit slegs die verbod tussen Israel en God was wat vir Israel oorwinning gegee het. Die feit dat die ark vooruit geloop het, het die mure van Jerigo laat val. Geestelik gestel beteken dit dat ons nie sonder n’verbod met God enige oorwinning sal behaal nie. Sonder die verbod (ark) en aanvaarding van God se gebooie  kan God nie namens ons optree nie. Sonder Jesus is daar nie n’verbod nie want Jesus het die nuwe Testament daargestel . (Jesus se dood gee ons vergifnis vir ons sonde en deel in oorwinning). Jesus se Naam is so kragtig omdat Hy die enigste mens is wat die bose, vleeslike versoekinge en sondige natuur kon oorwin. Slegs Jesus kon al Moses se wette onderhou en sterf sonder om te sondig. Jesus vervul dus die wette maar het dit nie verwyder nie. Om God volkome te aanvaar moet jy die wette ook aanvaar, want die ark met gebooie moet vooruit loop as jy die mure van Jerigo in jou lewe afbreek.

Ons lees in Openbaring 17 dat Babilon met n’prostituut vergelyk word wat op baie waters sit. Wanneer  die Bybel na prostitusie verwys, verwys die Bybel na afgode aanbidding. God stel ons verhouding met hom gelyk aan n’huwelik en wanneer ons agter ander gode aanloop dan is ons ontrou aan God, net soos n’ontroue huweliksmaat. Dit is die enigste manier waarop God vir ons kan oordra hoe Hy voel as ons Hom nie belangrik ag in ons lewens nie. Staan bietjie hier stil en laat dit insink; ons is verpletter as ons huweliksmaat ontrou is. Ons sal en wil nie n’ontroue huweliksmaat  hê of terugneem nie; maar God het ons so baie lief dat Hy selfs al was ons ontrou volkome vergewe en ons terugneem. Die boek Hosea beskryf dit so mooi en gee ons insig in hoe dit God raak.

Daar kom n’punt waar iemand so baie ander gode dien dat die persoon as n’prostituut gesien word. Ons lees ook dat Babilon op baie waters; baie nasies sit m.a.w Babilon beïnvloed nie net een volk of een nasie nie maar die hele wêreld. Daar word ook genoem dat Babilon dronk was en ander dronk gemaak het met haar wyn. Sodra Babilon ons lewe regeer word ons dronk en kan ons nie nugter na situasies kyk nie. Babilon is ook n’bloeddorstige stad, wat oorlog teen Christus voer en Christus se volgelinge dood. Babilon is die wêreld soos die wêreld vandag is. Ons word so maklik op n’dwaalspoor gelei, so maklik verblind en so maklik soos n’dronk persoon. Weereens jy hoef nie fisies n’beeld te aanbid om afgode te aanbid nie; alles wat belangriker as God is, is n’afgod. Dit is egter belangrik om te besef dat “afgode” bose geeste toegang tot ons lewens gee en mag oor ons gee. Ons word spiritueel n’gevangene van die bose; van Babilon.

Die bose magte wat reg tot ons lewe verkry het agv ons ongehoorsaamheid word ons reuse wat ons moet veg, net soos Dawid. Partykeer is dit nie so seer ons ongehoorsaamheid nie maar die van ons familie wat generasie vloeke oor ons lewe gebring het. Wanneer ons vertrou in God is, sal ons soos Dawid net een klippie nodig hê want ons krag lê in Jesus Christus wat ons die oorwinning gee.
Ons moet nie soos die Israeliete na-laat om die suurdeeg (sonde) in ons lewens te soek  en die bose uit te dryf nie. Omdat hulle nie die bose verdryf het nie het die bose vir hulle n’strik geword en daarom het hulle erger gode aanbid en meer losbandig geword as wat hulle was in Egipte.  In Eségiël word dit duidelik gemaak dat God se volk erger was as Egipte, Babilon en Sodom. Hulle het hulle vryheid prysgegee en hulle siele verbind tot die bediening van Satan.  

Dit is belangrik om te merk dat die koningkryk a.g.v Salomo se afgodsdiens in twee geskeur is, Israel en Juda. Israel het ballinge van die Assiriers geword en Juda is weggevoer na Babilon. Hulle vryheid is weggeneem en hulle was soos voëls wat vasgevang is in n’ voëlhokkie. Wanneer ons afgode dien en sonde ons norm word, word ons siele gevange geneem en vasgevang in hokke.
Die laaste koning van Israel was Hosea, hy het hulp gaan soek by Egipte. Dus spiritueel is hy terug na Egipte waaruit die Here hom met n’sterk hand verlos het. Sy straf was gevangenisskap, hy was geestelik vasgebind.  (2 Konings 17 en 24). Net soos Hosea het die laaste koning van Juda, Sedekia,  na Egipte gevlug vir hulp en wou hy homself weer onderwerp aan die slawerny waaruit hy losgekoop is. Die profeet Jeremia het Sedekia gewaarsku maar hy wou nie luister nie. Jeremia 52: 9-11. Die koning van Babel het Sedekia gevange geneem, sy seuns gedood, sy oë verblind en hy was in die gevangenis tot die dag van sy dood. Eségiël 12:13 En Ek sal my net oor hom uitsprei en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel, na die land van die Chaldieërs  bring, maar hy sal dit nie sien nie en daar sal hy sterf.

Wanneer ons ballinge van bose magte en kragte word en demone toegang tot ons het en ons terugkeer na Egipte waaruit ons verlos was sal ons dieselfde oordeel as Sedekia ontvang. Ons oë sal geestelik verblind wees vir God se waarheid.  Ons kinders sal gedood word want ons het hulle aan die duisternis gegee d.m.v. erfsondes en familie vloeke. Ons sal siel sal in die gevangenis   wees tot ons dood toe. Jesus se bloed kan slegs vir ons spreek as ons kies om Hom te dien en die sonde uit ons lewe verwyder.

Eségiël 13 waarsku ons teen valse profete. Babilon werk nouliks saam met vals profete. Daarom gee die Bybel ons die opdrag om die geeste te toets en is een van die geestelike gawes die onderskeiding van geeste.  Ons kan nie net blindelings alles glo wat gepreek of geprofeteer word nie maar ons moet dit toets aan God se woord, ons moet dus nugter bly. Eségiël 13: 18 -20 Valse profete het ook die mag om ons siele gevange te neem en te dood. Hulle gebruik nie God se krag nie maar demoniese magte en kan agv jou toestemming, jou siel gevange neem, dood maak of aan die lewe hou tot hulle voordeel. Die Here sal hulle sluiers skeur waarmee hulle hulle bose werke bedek en hulle ware doel openbaar. Dit bly ons verantwoordelikheid om te bid en elke gees te toets want ons sal die valse profete ken aan die vrugte wat hulle dra. Matthéüs 7: 15-20

Eségiël 18 gee ons, ons persoonlike verantwoordelikhede en dit wat God van ons verwag. Dit is net so relevant tot ons vandag soos toe dit geskryf was en som die wette in Exsodus, Levitikus en Detrenomium op. Moenie dat ek jou oortuig nie, lees gerus vir jouself wat  God van ons verwag. Daar is net een waarheid en dit is God se Woord en net God se Woord is lewendig en kan vryspreek.
Eségiël 18, 23, 29

Here ek dank U vir U woord en U waarheid. Here maak my nugter en ontmasker die Babilon in my lewe. Here wys Babilon se strikke uit en lei my op U paaie van geregtigheid; verlos my uit Babilon se kloue. Here ek kies om U te dien en ek vra dat U my die weg sal wys. Sonder U is ek tot niks instaat nie ek kan slegs oorwinning behaal deur Jesus Christus wat my die krag gee. Ek loof en prys U wonderlikke naam en dank U Here dat U die waarheid in U woord aan my openbaar. Dankie dat Jesus my verlossing mootlik gemaak het en elke band wat Babilon in my lewe het sal verbreek. Ek bid alles met dank en eerbieding in die groot en heilige naam van Jesus  Christus. Amen

No comments:

Post a Comment