Sunday, July 26, 2020

Daaglikse Brood

Jesus leer ons in Matthéüs 6:11 om te vra vir ons daaglikse brood. Let daarop dat Jesus nie gesê het ons moet vra vir ons maandelikse of jaarlikse brood nie maar ons moet daagliks om ons daaglikse brood vra. Ons verloor so maklik oog op God se getroue voorsiening en laat toe dat vrese ons oorweldig. Glo my vry net soos God elke dag ons fisiese brood voorsien sal hy ook ons geestelike brood aan ons voorsien. Ons moet egter elke dag vra want dit hou ons nederig en afhanklik van God. Psalm 34:8. God wil aan al ons behoeftes voorsien maar gaan dit nie doen as ons nie vra nie. Matthéüs 6: 24-34 en Jakobus 4: 1-3

Die storie van Rut openbaar aan ons hoe God ons geestelik voed. Dit bewys ook God se genade aan ons en hoeveel liefde en deernis God met elke mens op aarde het.  Rut n’Moabied (gebore uit die nageslag van Lot, Abraham se kleinneef) trou met Elimêleg se seun n’Israeliet. Uit Rut se nageslag word koning Dawid en ook die Mesias – Jesus Christus gebore. Dit is merkwaardig om te dink dat Rut soveel genade in God se oë gevind het. Mens moet regtig in die geskiedenis van die Moabiete indelf om die waarde van die boek Rut te begryp en te wardeer.

In Génesis 19 lees ons van Sodom en Gomorra se oordeel, Lot se redding deur die engele, die verwoesting van die twee stede en hoe Lot se vrou n’soutpilaar geword het. Lot se dogters het saam met hulle vader in n’grot gewoon en geglo dat hulle nie mans sou hênie. Hulle het Lot wyn ingegee en met hom gemeenskap gehad. Die oudste dogter het aan n’seun geboorte geskenk wat sy Moab genoem het Genesis 19: 30-38. In Númeri 22, 23 en 24 lees ons hoe die koning van Moab vir Bileam n’waarsêer laat kom om Israel te vervloek. Die Here het egter die vloeke in seëninge verander. Na die planne van koning Balak misluk het, het die Moabietiese vrouens  die Israeliete mans verlei en hoerery met hulle bedryf. Dit het ook veroorsaak dat die Israeliete Moab se afgode gedien het. n’ Vloek het oor die Israeliete losgebars en daar was n’plaag onder die Israeliete, Numeri 25. Agv die vloeke wat Balak oor Israel wou spreek en die verleiding van die Israelietiese mans maak God dit in Deuteronómium 23:3 -6 baie duidelik dat geen Moabied in die vergadering van die Here mag kom nie, nie eers in hulle tiende geslag nie. Dus sou n’huwelik met n’Moabietiese vrou glad nie aanvaar of toegelaat word nie. God neem Rut, n’Moabied en bring uit haar nageslag die Messias voort sodat Jesus Christus selfs vir Lot se nageslag se sondes versoening kan doen. Net God kan familie vloeke in seëninge verander!

Dit is weereens n’bewys dat ons as mens klein en nietig is. Ons sal nooit God se werke kan verstaan of sonder openbaring begryp hoe groot ons God is nie. Here ons kan U net loof en prys! Dankie vir die openbaring Here. Satan het gedink hy wen Lot se nageslag vir hom maar God het hulle verlossing moontlik gemaak. God het elke volk en elke nasie se verlossing vooraf by sy planne ingesluit. Satan kan letterlik op geen volk, nasie of stam aanspraak maak nie. Dit maak nie saak hoe hy hulle besoedel het deur afgode of sonde nie, God het hulle wetiglik losgekoop.    

In die boek Rut lees ons hoe Rut saam met Naómi haar skoonmoeder terugkeer na Israel. Rut los haar volk en haar gode en is bereid om Naomi se volk te aanvaar en God te dien.  Beide vrouens was weduwees en het geen inkomste gehad nie. Die wette soos deur Moses aan die volk gegee, het voorsiening gemaak vir die versorging van weduwees, wees kinders en armes.  Rut het volgens die wet in Deutronomium 24: 19 koring are gaan optel sodat sy brood vir haar en haar skoonmoeder kon bak.  Rut het nie net in enige land are gaan optel nie, maar in Boas se land. Boas was n’familielid van Elimêleg en so ook n’losser vir Rut.

God se Woord is ons daaglikse brood, ons krag om deur die dag te kom en ons krag om teen Satan se aanvalle staande te bly. Net so is Jesus se ligaam brood wat vir ons gebreek is, dus ons krag en die enigste manier wat ons vir ewig kan lewe. Wanneer ons as ongelowiges in God se koringland (die Bybel)  graan gaan optel werk God op dieselfde manier met ons as wat hy met Rut gewerk het. Eers tel ons baie min are op. Ons kry hier en daar n’stukkie maar dit is nie genoeg om ons te voed nie. Jesus plaas ons tussen sy “diensmeisies”of ander gelowiges om ons te versterk en aan te moedig om meer op te tel. Die “diensmeisies” help ons om die los stukkies uit die Bybel te verstaan sodat dit vir ons voedsel kan word. Rut 2: 11-13 wys vir ons dat Jesus nes Boas na ons harte kyk. Hy stel nie belang in wat ons sê of dink nie maar in n’opregte eerlike hart wat bereid is om in Sy wëe te wandel. Mattheus 9: 37-38, Markus 7: 24-30

Rut 2 Vers 14 wys hoe Jesus ons voed met brood. Boas beveel Rut om haar brood in die asyn te doop (wyn). Die stuk lees asyn maar as mens die woord wat gebruik is navors dan is dit eintlik n’bitter wyn wat tydens die oestyd gedrink is. Die asyn of bitter wyn het n’dors beter geles as water. Jesus is die enigste een wat ons geestlik kan voed en ons dors kan les Mattheus 15: 26-28 en Johannes 4: 13-15. Jesus word geestelik voorgestel as die Woord van God maar ons weet ook dat die Woord van God die Bybel is. Jesus se Liggaam word geestelik as brood en Sy Bloed as wyn gesien. Die siel van enige mens of dier is in sy bloed. Dus Jesus se dood waar Sy Liggaam gebreek en Bloed gevloei het word ons brood tot die ewige lewe.

Wanneer ons soos Rut met n’volkome hart graan gaan optel dan sal Jesus sorg dat daar vir ons meer are  laat val word sodat ons sterker en sterker kan word deur die krag van Sy Woord. Rut word deel van die oes. Rut geringer as n’diensmeisie en n’vreemdeling word deur Boas gelos - Rut 3. Die lossingsreg volgens Deutronomium 25: 5 lees dat die broer van n’oorlede man met die oorledene se vrou moet trou sodat die oorledene se naam nie uitgedelg sal word nie. Dit het ook verseker dat vrouens wat nie inkomste kon verdien nie versorg sou word. Boas maak nie van Rut net nog n’diensmeisie nie maar tree vir haar in as losser sodat sy, sy bruid kan wees.  Jesus is die volmaakte losser vir ons. Ons wat eers vreemdelinge was word deur Hom gelos (verlos) en soos Rut word ons Jesus se bruid.    

Dit gebeur so dikwels dat ons n’Bybel boek lees en die hele geestelike betekenis mis. Deur die boek Rut wys die Here nog voor Dawid se geboorte sy velossingsplan. WOW!!!! Die Here wys hoe ons Verlosser  ons Geestelik sal voed, ons dors kan les en deur wie ons die ewige lewe kan beërwe. Die Here wys ook dat ons in SY land gerwe moet optel en SY Woord ons daaglikse brood moet maak. n’God wat alles so deeglik en noukeurig beplan is nie n’God wat ons in die steek sal laat nie. Neem elke dag jou daaglikse brood uit SY Woord en HY sal in jou fisiese behoeftes ook voorsien. Geloof is n’daadsaak!

Mag God met jou wees en mag Hy jou rylkik seën. Mag sy liefde jou vul en jou beker van vreugde oorloop. Ek spreek en vra alles in die naam van Jesus Christus ons verlosser, Heer en Koning. Amen

No comments:

Post a Comment